Onlangs weer lees ek een van my vriend Johan Bakkes se vele reis skrywes, en reg aan die begin maak hy weer half-skaam verskoning vir die feit dat hy gelukkig is. Snaaks, toe ek dit lees kon ek sy geluk aanvoel en weet waaroor hy so ‘n heuglike uitkyk oor die lewe het, maar nou waar ek in die bed sit met ‘n krampende maag en skryf, onthou ek net die hoofrede. Reis. Johan is dankbaar dat hy kan reis, want dit maak hom gelukkig.
Minder as ‘n maand na ons terugkeer na ‘n duinlose normaliteit, oorreed ek vir Eldre dat ons in die pad moet val. Daar is twee groot redes daarvoor, een: ek vrees met als in my hart dat my nuwe lewe wat op daardie 108m duin begin het, in ‘n sandstorm van korporatiewe papierwerk ‘n stille dood sal ondergaan en twee dat die Fortuner moet gewoond raak aan harde klippe onder sy voete.
Saterdag oggend skop af met ‘n haastige ontbyt in Matjiesfontein, ‘n rustige “Hallo” aan die naweek se vriende, en daar gaan ons grondpad toe.

So eindig ons op op Skurweberg, ‘n Karoo plaas naby Sutherland. Sutherland is snaaks. Snaaks as jy daar uit jou kar klim, want die lug ruik nie lekker nie.

Dit het my ‘n rukkie geneem om agter te kom dat die snaakse reuk juis daar is omdat die lug glad nie ruik nie; Sutherland het weens hoogte bo seespieël, geen besoedeling nie. Ek dink dis Stephen Hawking wat gesê het dat lig so vinnig beweeg, dat ons vir ‘n lang tyd gedink het dit beweeg glad nie. Slim mannetjie daai. Nou ja, dis ook dan die rede vir die sterrewag daar naby. Die lug is so skoon, dat die dorp wat so 30 of 40km weg is, se straat lampe verder van mekaar is as normaal, want anders gaan dit die teleskope beïnvloed.
Die aand slaap ons by Skurweberg, ‘n pragtige Karoo plaas.
Volgens die internet gaan die temperatuur die nag erens tussen 0 en -9 wees. Ja, ek weet, dis nie baie akkuraat nie, maar vir ‘n Kapenaar is enige iets kouer as 5grade baie koud. Ek probeer dit tot my voordeel gebruik, en stel voor vir Eldre dat ons ons nuwe -2 grade (-5 in nood, wat dit ook al beteken) slaapsakke aaneen moet zip. Sodat ons mekaar kan warm hou, sien.
“Is jy foking mal? Dis -2 buite?”. My idee(s) word net daar afgeskiet, en als word koud.
Daardie nag word dit wel koud. Baie baie koud. Ons is nie gewoond aan slaapsakke nie, en nog minder aan sulke koue. Erens in die nag maak Eldre my wakker, en reken ons moet die slaapsakke aan mekaar zip, sodat ons kan lepel lê.
“Is jy foking mal? Dis -2 buite” is my antwoord. Daar is NIKS wat my uit daai slaapsak kry niks. NIKS. In hoofletters.
Ek word wakker die volgende oggend, en voel ge-ys. Ons gaan ry op wonderlike paaie, en raak bang.
Ons ry teen bergpasse uit, en ek bly bang.

Of so het ek gedink. Ek kom skielik agter dat my hoogtevrees, wat my al 4 keer laat reksprong het, en 2 keer by Dreunkrans in Hermanus laat afspring het, is nie met my nie. Sien, ek het al die dinge gedoen om my vrees weg te kry. Maar niks, die vrees het my omarm. Soos ons ry, kom ek agter ek kan ‘n meter ver van ‘n 100 meter afgrond ry, en nie bang wees nie.
Snaaks.
Hierdie snaaks laat my lag.
In Middelpos, sien ons vir die eerste keer Anatoliese skaap honde van naby. Hierdie reuse honde word op jong ouderdom van hulle Ma’s af weg gevat, en saam met skape gesit. Die brakke word dan letterlik groot as skape. Mens mag hulle nie roep nie, nie speel nie, niks nie. Dis skape in honde klere. Die honde sien hulle self dan as skape, en weens hulle grote, kan hulle jakkalse, cheetas, wolwe en ander roofdiere doodmaak wat dit naby hulle skaap familie waag.
Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer voel ek soos ‘n Anatoliese skaap hond. My hele lewe lank was ek ‘n skaap, maar hoe ouer en brawer ek word, hoe meer kom my brawe, werklike kant tevore.
Toer organiseerders: http://www.thejourney.co.za / jurgens@thejourney.co.za (HOOGS aanbeveelbaar)
Toer leier: Douwe Vlok van http://www.karoospirit.co.za / info@karootours.com (HOOGS aanbeveelbaar)
Wonderlike gaste plaase: http://www.skurweberg.co.za (HOOGS aanbeveelbaar)
Anatoliese skaap honde: http://en.wikipedia.org/wiki/Anatolian_Shepherd





You must be logged in to post a comment.