Category Archives: Toyota

Britte, Italianers en armblankes.

Op http://www.mooiloop.co.za beskikbaar hier.

Die donnerse Britte.

Teen 1881 het die Brit Henry Barrington al heerlik gebly in Portland Manor, net buite die Knysna bosse. Die legende gaan dat Henry baie suksesvol was met sy boerdery, en besluit het om dit te gebruik om iets te doen aan ‘n groot probleem in die bos.

Eintlik 2 groot probleme. Op daardie stadium is twee wilde spesies, wat nie hou van reëls en beheer nie, in die bosse ingejaag. Die olifante, en die Afrikaners. Ingejaag, of gaan wegkruip; ek is nie 100% seker nie. Die Afrikaners het hout gekap, en die Olifante het die Afrikaners rondgejaag in die bos. Hulle was moerig. Die olifante meen ek. Orals was op hulle geskiet, en kry hulle toe wegkruip plek in die Knysna bosse. Daar aangekom, besef die olifante dat dit nie so idillies is soos mense dit wil uitmaak nie, dis koud. Nat. Geen kos. En bedonderde Afrikaners kap die een boom na die ander af. Ek moet wel byvoeg dat hulle net gekap het wat hulle nodig gehad het. Die Afrikaners het omgegee vir die bos; dit was hulle beskerming en lewe.

Die Afrikaners het met groot moeite die hout tot in die dorp gekry, net om deur die hout handelaars uitgebuit te word. Sien, die hout handelaars het ook die plaaslike Woolies Foods van die dag besit, waar die houtkappers nie anders kon as om kos op skuld te koop nie. Die houtkappers is dan nooit vir hulle hout betaal nie, die inkomste is sommer van hulle skuld afgetrek. Duidelik ‘n belowende beroep, solank jy die hout handelaar is.

Dit het tot gevolg gehad dat die Afrikaners in die bos verarm het. Hulle het armblankes geword, van die soort wat mens nog steeds op die platteland en Patricia Lewis konserte sien. Patricia is dus die hout handelaar, maw. aan die regte kant.

So besluit Henry Barrington dis tyd dat iets gedoen moet word. Hy gesels met sy vriend in die parlement, en reken hulle die beste plan is om ‘n sy bedryf te vestig in die bos, dat dit die Afrikaners kan besig hou en geld genereer. Natuurlik kan die Afrikaners nie na hulle self kyk nie, en word daar besluit die Italianers is die regte mense om die Afrikaners in toom te hou. Seker maar omdat dit een bedonnerde nasie vat om ‘n ander in toom te hou. Wat ook al wou, die Italianers kom toe oor na Knysna met ‘n groot gejuig. Aan land gestap, besef hulle toe hier is moeilikheid. Eerstens is van die families belowe hulle gaan Amerika toe, en tweedens kom hulle gou agter dat die moerbei bome die verkeerde soort is, en gaan die plan nie werk nie. Die Italianers word toe vir alle praktiese doeleindes op ‘n stuk grond gelos om na hulle self om te sien. Geen Afrikaans of Engels magtig nie, met geen manier van inkomste nie, besef hulle toe hier is probleme. Nou die storie loop dat die Hollanders tot ‘n manier tot hulle redding gekom het, en om ‘n lang storie kort te maak, het die Italianers toe mettertyd deel van die Hollanders geword. Hulle het getrou onder mekaar en als wat daarmee saamgaan. Toe die Italianers eers met die Hollanders deurmekaar raak, kon hulle ook nie juis terug Italië toe nie, want daar is op hulle neergekyk. In Italië was baie van die mense suksesvolle sy boere, en toe hulle probeer terugkom met barbaarse Hollandse vrouens en mans, is daar besluit dat hulle nie meer goed genoeg is vir die volbloed Italianers nie.

Einde Augustus 2008 besluit ons om my Pa hulle halfpad van Oos-Londen af te ontmoet by Stormsrivier mond.

Wat jy inbring, vat jy uit.
Mr Delivery, Stormsrivier styl.
Mr Delivery, Stormsrivier styl.
Rof, soos 'n Afrikaner.
Rof, met ‘n blink kant, soos ‘n Afrikaner

Deur Jurgens van www.livethejourney.co.za en Douwe van http://www.karoospirit.co.za kom ons die Vrydag by Knysna bosse uit. Ons ontmoet vir Frank, wat baie vinnig vir ons vertel dat vandag die dag is wat ons die bos gaan leer ken soos ons nooit van geweet het nie. En hy was reg. Frank begin gesels. 3.5 ure later, is selfs my Pa stil, en dit wil gedoen wees. Frank vertel ons als van die bos wat ons nie geweet het agter die bome kan aangaan nie. Dis die ding. Mens dink, as jy gaan ry, dat jy jou kar in ‘n rat gooi, en ‘n paar ure lank bome kyk, en dan is dit dit. Jy kan dit beslis so doen, maar dan kan jy beslis net sowel by die huis bly, en die DVD kyk. Frank besit http://www.bhejane.com/. Hy het die natuurbewaring ouens genader en oorreed dat hy ‘n konsessie moet kry om mense, onder streng beheer, deur die bos te vat. Dit gebeur toe en hoop hulle binne die eerste jaar sal daar darem so 350 mense wees wat sou belang stel. Onderskatting is die wagwoord hier, want toe ons gegaan het, was daar al 750 mense deur die bos en die eerste jaar is nog lank nie agter die rug nie. Frank het die hele storie so beplan dat die bosmense ook voordeel trek uit die hele storie. Daar is met hulp ‘n restaurant by Diepwalle Bosbou Stasie op die been gebring, wat werk verskaf aan die mens van die omgewing. Op datum het meer as R70000 na die gemeenskap gevloei, wat my asem weggeslaan het.

alwetend.
Italianers: alwetend.

In die tyd wat Frank 3 radios pap gesels het, hoor ons hy is ‘n afstammeling van een van die oorspronklike Italiaanse families, ene Rabbolini. Hy vertel ook dat die storie vertel word in Dalene Matthee se Moerbeibos en al die hout treine in die bos gaan staan stil vir my. (Dankie aan Gert Vlok-Nel dat ek jou woorde kon buig).

Ek besef ek het nog nooit in my lewe Dalene Matthee gelees nie. Hoe meer ek probeer dink daaroor, dat ek seker Fiela se Kind gelees het, hoe meer kan ek nie dink dit het ooit gebeur nie. Ek raak angstig en besluit dat ek dit moet regstel, want ‘n fout soos hierdie kan maak dat ek vriende verloor.

Terug in die Kaap koop ek Toorbos en is die boek my vriend vir die volgende paar dae.

Ek besef nou, dat as dit nie vir die donnerse Engelse was, wat gaan kak maak het met die Italianers 127 jaar gelede nie, het ek nooit Dalene Matthee gelees nie.

En daarvoor se ek dankie vir die Engelse en die Italianders, wat baie moeite gedoen het lank gelede om my ook beskawing toe te bring.

In my opinie kan die Engelse maar weer gaan moeilikheid maak met ‘n ander nasie, wie weet watse wonderlike dinge daaruit gaan voortspruit oor so 120 jaar. Enige iemand al Irakese boeke gelees?

As jy ‘n brandewyn-en-Coke 4×4 tipe ou is, bly weg. Hierdie toere is nie vir jou nie en is ek seker julle wat kan lees sal ook nie my blog lees nie. Hierdie begeleide toere is vir mense wat lus is om hulle lewens te verander. Saam met die regte gidse, kan ek jou dit waarborg.

Toer leier: Frank Carlisle.
http://www.bhejane.com/
Koste: R350 per persoon (dit sluit koffie en ‘n ete in. Ook, ‘n nuwe uitkyk op die bos.).

Bespreking gedoen deur http://www.livethejourney.co.za.
Opgewonde gemaak deur http://www.karoospirit.co.za
Informasie oor die Italianers: elsabeth@livethejourney.co.za
Vir Dalene. Jammer.

Ns. Hierdie storie is soos ek dit kan onthou, en sal daar beslis feite wees wat ek verkeerd het.  So lees ek byvoorbeeld dat een van Henry Barrington se kleinkinders reken die storie is heeltemal verkeerd. Lees meer by http://www.talkabouttown.co.za/talktownforum/showpost.php?s=11089fa5f9ace78a5641c1d766e3d9e6&p=734&postcount=2.

Hemel op die platteland

In my naïewe jeug was ek ‘n ingeskrewe meganiese ingenieurswese student by Stellenbosch. Daar het nie veel van dit gekom nie, maar daardie 4 jaar van waansin waarvoor my arme ouers moes betaal, het wel 2 groot nagevolge gehad. Een. Maak nie saak hoe sleg jy doen op universiteit nie; net die feit dat jy saam met ander studente rondgaan (en omgaan) gee vir jou ‘n denkwyse wat jy nooit in jou lewe sal verloor nie. Tot vandag toe verbaas ek myself hoe goed ek kan wees om probleme af te breek tot in hulle kleinste deeltjies, en van daar af op te bou. Twee. Ek het my selfvertroue verloor.

Terug na nommer een. Ek reken dat van al die wonderlike ingenieurswese uitvindsels wat in ‘n voertuig soos ons Fortuner gaan, is by verreweg die belangrikste een die staal plaat onder die enjin. Oil sump soos ons dit ken in Algemeen Aanvaarde Afrikaans. RSG inbellers, bel vir RSG. Hier is myne. Ek is baie trots op daai merke.

Plyster vir my nerwe

Plyster vir my nerwe

My vriend Jurgens van www.LiveTheJourney.co.za word baie jammer gekry deur Eldré. Sy se ek e-pos hom te veel. Ek weet nie hoe om op te hou nie, want sy lewenstyl is net so aanloklik.Reise deur die Namib. Reise deur Botswana. Reise deur Angola. ‘n Reis uit die stad uit elke aand.

Deur een van ons vele geselsies oor e-pos reken Jurgens ons moet Groot Toren toe gaan.  Op die web gaan loer,  en vinnig uitgekom by hulle werf. http://www.tourismmcgregor.co.za/GrootToren.htm

Ek dog wel, die plek lyk nie te kak nie,  en kontak ek hulle. Met die relings het Marinda (van Groot Toren) my geSMS op antwoord vir my e-pos. Sy het verduidelik dat dinge by hulle afhanklik is van son krag,  en weens die sneeu sal ek maar moet wag totdat die details deurkom.  So gemaak, en kom die e-posse een vir een ingevlieg by my indoos. Aangeheg is die mees ongelooflike fotos, waaronder die volgende:

Later as beplan kom ons weg die Vrydag middag, en kom met ‘n groot gejuig aan by Groot Toren. ‘n Lee kam parea en beligte kombuis heet ons welkom, waar ek sommer self inteken en sleutel gryp. Ek voel die lewe is ‘n lied.

By die hek aangekom kan Eldré tot my verbasing nie die hek oopmaak nie. Ek kom tot die besef dat in my kinderlike opgewondenheid het ek nooit besef dis is nag-donker nie, en ons moet nog ‘n paar kilometer teen die berg op! Deur die hek, af in LOW, en Eldré begin naels kou. Dit is stik-giet-nag donker, soos dit net in die platteland kan wees. Ons is egter daar op met ‘n groot gejuig, en bruis my are van vars lug, hoogtes en avontuur. Eldré is nie in dieselfde bui nie, want sy is die een wie se lewe in ander se hande was teen daardie donker berg op.

Die huisie is fantasties. Geen TV, maar weens reeds genoemde son krag en gas is daar lig en dan ook yskas, storte en ‘n massiewe kaggel. Die plek is netjies hoor. Netjies.

Ons maak ‘n reuse kaggel, drankies word geskink en die rustigheid begin ons omvou. Die stilte pla my. Dit gebeur elke keer as ons weggaan. Ek voel ongemaklik en angstig, want dinge is nie heeltemal reg nie. Die lug ruik skoon, en daar is net stilte. Geen TV, internet, of IPod wat op 66% volume in die agtergrond speel nie. Gelukkig vir ons word die stilte onderbreek deur ‘n  geritsel. Ek het voorheen al ‘n stelletjie afgetrap met ‘n skerpioen in my skoen, so dadelik wil ek weet wat aangaan (ek dink nie daaraan dat ek heel moontlik nie ‘n skerpioen sal hoor steek nie). Die geritsel draai uit om ‘n veld muisie te wees. Op en af is ek en die voorkamer agter die muis aan, want “ons” reken daar is nie genoeg plek vir ons almal in die huisie nie. Na ‘n groot stryery is muis by die voordeur uit in die koue nag in. Nie lank nie, en dis weer so. Ek reken dat g’n muis my sal onder kry nie, hel man; ek het dan net ‘n rukkie terug in die nag ge-4×4! Eldré reken egter dat die muis pla. Ek bel vir Marinda, en sy reken die outjies kom maar in, en ons moet ‘n muis valletjie stel. Na ‘n stille woordewisseling stel ek die valletjie, maar my aand is ge-spoil (bel RSG, mense…). Ek wil nie ‘n muis moordenaar wees nie, ons is dan die besoekers?

Volgende oggend is dinge maar styf tussen ons. Ons besluit egter die roete moet aangepak word, en daar gaan ons. Goeie fok. Weereens, RSG mense. Party dinge klink net nie so goed as jy se: “Yesterday” nie. Wat ‘n hemelse ervaring.

Die roete is beslis nie vir 4×2 gemaak nie, en maak maar seker jou bande is afgeblaas, en grondvryhoogte is hoog. Die huisie en roete was bo die wolke vlak, wat veroorsaak het dat jy hemels voel. Jy is bo die wolke, en terwyl jy op die roete is, klim jy nog hoër. Ek is nie naastenby ‘n goed genoeg skrywer om dit te beskryf nie, so fotos sal moet doen.

Groot Toren

Groot Toren

Hemel op die platteland

Hemel op die platteland

Driehoek

Driehoek

Skadu teen die muur

Skadu teen die muur

Saterdag middag is ons altwee kalmeer. Ons neem fotos, drink wonderlike Ega (http://www.egalife.co.za/) en rooiwyn, en begin gesels. Vir die eerste keer die naweek. Ek en Eldré besef dat dit ons ‘n hele dag gevat het om die stad uit ons lewe te druk. ‘n Hele dag. Dit voel vir my soos ‘n dag in my lewe wat ek gemors het, en nooit weer sal terugkry nie. Weereens kom ek agter hoe ‘n groot invloed die stad op jou het. Nou kyk, ons is reg vir weggaan sodra ons kan. En as dit ons ‘n dag vat om af te skakel, dan kry ek ander mense jammer. Daai gif is in jou, en as jy nie baklei daarteen nie, kom dit nie uit nie.

‘n Hele foking dag is daarmee heen. Dit klink kort, maar in daardie dag het ons baklei, ek het stil stuipe gehad, ons het selfs amper muis-moord gepleeg! Twee keer! Dis nie aanvaarbaar nie. Almal wat amper al hulle toekomstige dae verloor het, sal weet hoe kosbaar een dag is. Een dag wat nie gebruik is nie, is ‘n vermorsing, en kan jy net jouself blameer.

Dit bring my terug na die staal plaat. Man, ek is mal oor daai plaat. Weens daardie plaat kan ek in die nag teen berghange op ry, ons kan die stad gif uit die bloed kry op Groot Toren se klip opdraandes, en as jy ‘n foutjie maak, is dit ok. Die PLAAT beskerm jou.

En dit doen die wêreld se goed vir my ou tweede probleem.

Groot Toren se huisie: hemel op die platteland. Skuif die kaart rond om die res van die area te sien.

Ns. Die muise en al die ander diere het die naweek oorleef. Ons is beslis die indringers daar, so het geen reg om hulle te vernietig nie. Ek voel in elk geval dat dit wonderlike atmosfeer skep om die natuur so naby jou te hê. Solank dit nie ‘n skerpioen is nie. Marinda noem vir my dat die muise ‘n baie belangrike rol speel in die bestuiwing van die laer groeiende protea en fynbos spesies. “Druk mos hulle neuse in almal se sake.” Ek vind dit baie interessant; ons het die naweek die 2 muise gesien, 2 koggelmanders en ‘n paar bobbejane wat luidkeels laat weet het dat ons indringers is. Verder is daar geen ander diere raakgeloop nie, net die ongelooflikste proteas. Ek is nie seker hoekom nie, ek kan maar net dink dis oor die hoogte. Ek hoop werklik niemand lees my blog nie, of ten minste dat ek ‘n swakker skrywer is as wat ek dink, want dan hopelik gaan Groot Toren nie meer besprekings kry nie. Ons is besig om te reel vir ons volgende naweek daar, en sal dit ‘n skande wees as ons nie plek kry nie.

Webwerf: http://www.tourismmcgregor.co.za/GrootToren.htm
Telefoon: 023 625 1954
E-pos: groottoren@telkomsa.net
Koste: R1000 vir die naweek. R100 vir 200 stukke DROË hout (ek weet, dis ‘n konsep wat ons in die Kaap nie ken nie). ‘n Ekstra motor kan ingaan vir R200. Ingesluit in die koste kan jy die roete ry. Ons het dit oor 2 dae gedoen, maar kan beslis in een dag gedoen word.

Hier is nog twee outjies…

Bloukop

Bloukop

Vettig

Vettig

Oranje, blanje, groen.

Oranje, blanje, groen.